Philafrica Foods kry Mosambiekse hoendervennoot

Philafrica Foods, deel van die Afgri-groep, het ’n vennootskap met ’n Mosambiekse hoenderprodusent gesluit om die potensiaal in die bedryf te ontgin.

Sowat 60% tot 70% van die hoendervleis wat in Mosambiek geëet word, word ingevoer en daar is dus groot geleenthede, sê mnr. Roland Decorvet, uitvoerende hoof van Philafrica.

Die maatskappy het in ’n verklaring bekend gemaak dat hy ’n gesamentlike onderneming, op ’n 50-50-grondslag, met Novos Horizontes aangegaan het. Dié Noord-Mosambiekse onderneming is ’n geïntegreerde hoenderprodusent wat in 2005 gestig is met die kernvisie om potensiaal rakende grond en arbeid in die land te ontsluit deur kleinboere te ondersteun. Die gesamentlike onderneming sal Novos Horizontes, wat “nuwe horisonne” beteken, in staat stel om sy uitbreiding in die land voort te sit.

“Ons beskou Novos Horizontes as ’n betroubare vennoot, ’n winsgewende onderneming, en, die belangrikste, ons het dieselfde waardes rakende die transformasie van kleinboere se lewe,” sê Decorvet.

Mnr. Andrew Cunningham, uitvoerende voorsitter van Novos Horizontes, wat die onderneming in 2005 begin het, sê die onderneming wil die toonaangewende pluimveeprodusent in die land wees en na ander waardekettings uitbrei waar voedselverwerking en die bou van handelsmerkte produksie deur kleinboere kan bevorder. Die onderneming gebruik plaaslike boere om hoenders op hul eie plase groot te maak.

Novos Horizontes besit ook aandele in Mozambique Fresh Eggs, ’n eier-produsent in Nampula, en het Frango King, nog ’n hoenderprodusent in die land, onlangs verkry.

Decorvet het gesê tot dusver is nog geen uitbrekings van voëlgriep in Mosambiek aangemeld nie, maar die maatskappy ontwikkel daadwerklik gebeurlikheids- en risikobestuursplanne.

Philafrica Foods is een van die grootste voedselverwerkingsmaatskappye in Suid-Afrika. Die maatskappy besit en bedryf 12 aanlegte. Die gesamentlike onderneming met Novos Horizontes is deel van sy beoogde belegging van tussen R1 miljard en R1,5 miljard in Afrika in die volgende 18 tot 24 maande.

Source:  Landbou.com, Carien Kruger, 19 October 2017